U i t d i e k a n t o o
r

Die skoolhoof, mnr. E.L. Käsner.
Kom ons leer ons kinders omgee!
Ons is gelukkig om elke dag by Simon van der
Stel te kan ervaar hoe volwassenes en kinders vir mekaar omgee. Daar is
altyd ruimte vir verbetering en as ons die optrede van mense oor die
heelal bestudeer, sal ons agterkom dat omgee vir mekaar ver tekort skiet.
As mense meer vir mekaar omgee, sal die meerderheid van die wêreld se
probleme lankal opgelos gewees het.
Almal word gebore met die vermoë om vir
mekaar om te gee, maar dit kan nie vanself so bly nie. Kinders moet
voortdurend leiding van ons as volwassenes af kry om hul "omgee
vaardighede" opgeskerp te hou.
Prof Mark Barnett van die Universiteit van
Kansas in die VSA en kenner op die gebied van die ontwikkeling van
empatie by kinders, sê dat alhoewel kinders, en selfs babas, tekens van
sensitiwiteit teenoor ander mense se gevoelens toon, hul leiding nodig
het oor hoe om op hierdie gevoelens te reageer. Hy sê verder: "Die
natuur verskaf die potensiaal, maar daar is baie dinge wat ouers kan
doen om empatie by hul kinders te ontwikkel." Een van die dinge wat
ouers kan doen, is om onvoorwaardelik empatie aan hul kinders en aan
ander te toon. Ons kinders moet ook die versekering hê dat ons vir
hulle liefhet en sal versorg, ten spyte van hul foute en
ongehoorsaamheid wat soms voorkom.
Volgens prof Barnett moet die volgende in ag
geneem word om empatie by kinders te ontwikkel:
1. Wees 'n modelouer - kinders
tree op in ooreenstemming met die gedrag wat hulle by hul ouers
sien.
2. Verminder die kompetisie -
kinders wat baie mededingend optree, is geneig om minder sensitief
teenoor ander te wees.
3. Gebruik die alledaagse nuus -
gebruik voorbeelde van kinders wat in moeilike omstandighede grootword
en bepaal ooreenkomste.
4. Sien hul pogings raak -
moedig jou kinders aan as hulle goeie dade verrig het, sodat hulle dit
weer aan ander kan doen en sodat hulle selfbeeld verder uitgebou kan
word.
5. Begin vroeg - dit is nooit te
laat om empatie by kinders aan te kweek nie, maar hoe jonger hulle is,
hoe makliker praat hulle oor hulself en hoe meer vatbaar is hulle om
empatie te begin toon.
Behalwe bogenoemde, speel dissipline 'n
deurslaggewende rol. (Bron: Vrouekeur, 5
Junie 2009) |